Huiskopers op Bela Bela vermy nuwe landgoedontwikkelings en verkies nou bestaande huise en woonstelle op dié dorp in Limpopo.
“Talle nuwe behuisingsprojekte is die afgelope paar jaar rondom Bela Bela ontwikkel aangesien dit toenemend ‘n gewilde vakansie- en naweekbestemming geword het,” sê Tjaart Oosthuizen, mede-eienaar van die plaaslike Aida-kantoor wat onlangs opgeknap is.
“Maar dié projekte lok op die oomblik nie veel belangstelling nie. Die meeste kopers hier is nou op soek na winskopies onder ouer eiendomme – al het dit opknapping nodig – en nuwe eenhede kry nie veel aftrek nie. Kopers besef maar alte goed dat nuwe huise nou sowat 20% meer as bestaande eiendom kos en ook dat hulle verkopers kan oorreed om laer aanbiedinge te aanvaar aangesien daar ‘n oorvoorsiening van voorraad is.”
Hy sê egter dat die oorvoorsiening nou vinnig opgeneem word met die hulp van bystandsprogramme vir eienaars onder geldelike druk wat deur sommige banke bestuur word. “Kopers van eiendomme in dié programme kry 100% lenings en ‘n 50% afslag op regskoste. Boonop beding banke reserwepryse op dié eiendomme wat dikwels heelwat laer as die markwaarde is en sulke transaksies is dus baie aantreklik vir voornemende kopers.”
Terselfdertyd het die meeste ontwikkelingsprojekte rondom die dorp bykans tot stilstand gekom en die feit dat daar geen voorraad uit dié bron na die mark gebring word nie help ook om pryse te stabiliseer – pryse is nou weer op die vlak waar dit voor die resessie was, sê Oosthuizen.
“Ons is dus vol vertroue dat die mark in Bela Bela goed op pad is na herstel en dat ons oor die volgende 12 tot 18 maande sterk groei kan verwag. Ons besluit om ons kantoor op te knap is op dié verwagting gegrond – die kantoor is modern en doeltreffend en verteenwoordig die begin van ‘n opwindende nuwe fase in die mark.”
Uitgereik deur Aida National Franchises
Aida hoofkantoor: 012 682 9600
Skakelpersoon: Young Carr
Aida Bela Bela: 014 736 4848
Skakelpersoon: Tjaart Oosthuizen