Druk op studentebehuising in Bloemfontein gaan verlig word met ‘n nuwe ontwikkeling langs die universiteit se kampus.
Riaan Malan van die plaaslike Aida-kantoor sê slegs sowat 5000 van die 28 000 studente aan die Universiteit van die Vrystaat kan in universiteitskoshuise gehuisves word. “Dit bring mee dat 23 000 studente elke jaar na behuising soek, of tuis óf in studenteverblyf, wat ‘n groot persentasie van die vraag na blyplek in die stad uitmaak.
“Tradisioneel het studente in November begin om verblyf vir die volgende akademiese jaar te soek, maar tekorte het daartoe gelei dat voornemende huurders vroeër in die jaar begin om hulle name op waglyste te plaas. Vanjaar het ons reeds ‘n lang waglys aan die begin van Augustus gehad.”
Malan sê die beplande Uniloft woonstelle oorkant die kampus sal hopelik meehelp om die druk op vraag effens te verlig. “Die ontwikkelaars wag nou vir finale hersoneringsgoedkeuring en beplan om vroeg volgende jaar met bouwerk te begin. Die verwagte intrekdatum is Januarie 2011.”
Hy sê ook die ontwikkelaars onderhandel nog oor finale pryse in ‘n poging om die eenhede so bekostigbaar as moontlik te maak maar die 43vkm tweeslaapkamer-eenhede gaan na verwagting tussen R600 000 en R700 000 stuk kos.
“’n Prys van minder as R700 000 vir sulke eenhede verteenwoordig uitstekende waarde in ons mark. Beleggers kan opbrengste van tot R5000 per maand verwag indien ‘n eenheid aan twee studente verhuur word.”
Die 370 eenhede sal van die plan af bemark word en sal goeie sekuriteit sowel as dienste wat spesiaal op studente gemik is, soos wasgoed- en ontspanningsgeriewe, bied. Alle eenhede sal ten volle gemeubileer word.
Malan sê voorts dat belangstellende kopers en beleggers op ‘n waglys geplaas gaan word en hulle sal voor die amptelike bekendstelling van die ontwikkeling in kennis gestel word. “Ons verwag dat die eenhede baie vinnig gaan uitverkoop in die lig van die nypende tekort aan studenteverblyf in die stad.”